Vragte van hoop vir Vredendal
“Skape eet uit die boere se hande uit, so mak is hulle, maar ons mense is nog nie mak genoeg nie, ons is nog wild, ons eet nog nie uit die Here se hande uit nie.
Sodra ons gaan mak raak en uit die Here se hande eet dink ek sal alles verander.” So sê Burre Burger, stigter van droogtehulp met Burre Burger van Vredendal oor die droogte in die Noord-Kaap. ‘n Video wat Burger geneem het wys hoe 27 vragmotors met voer en mielies Saterdagaand vir Vredendal arriveer.
Dit gaan daaroor dat ons mense moet hoop gee. Soos vragmotors by die konfooi aangesluit het, het daar al te saam 36 vragmotors by die dorp ingery, het Burger Dinsdag aan Netwerk24 vertel.
Toe die bestuurders daar opdaag het hulle nie die omvang van die aksie begryp nie, en daar kom gee hulle vir 400+ mense hoop. Ewe skielik het iemand begin Nkosi Sikelele sing, en die trane het geloop. Ons moet elke dag opstaan en die ou langs jou probeer hoop gee, dit is waaroor die lewe gaan. As jy nie vir die ou langs jou kan hoop bring nie, gaan jy self later hoop verloor.
“As jy 36 of 40 is kan jy nog Australië of Kanada toe gaan, maar dan kry jy 'n oom van 85 wat vir my sê “weet jy boetie, dis die eerste keer in my lewe dat ek iets verniet kry.” Wat gaan van so ‘n oom word as die droogte nie einde kry nie?”
Burger sê 'n jaar gelede het hy in ‘n hospitaalbed gelê toe hy self moeg geraak het, en die dokter het gesê hy moet pille drink om gesond te word, en hy het toe besluit hy wil eerder ander mense help, want om ander mense te help is sy gesond-word-pille
So maand en ‘n half gelede het ‘n vriend van hom gesê hy wil vir Andries Le Roux in die Lainsburg area help en vir hom mielies stuur. Andries het gesê, hul moet liewer ander boere help. Maar hulle het nie besef hoe moeilik dit met Andries gegaan het nie, en 2 weke later het hy hoop verloor en opgegee. Burger sê, “die droogte het hom kom vat.
Andries kon nie meer nie, hy het moeg geraak en selfmoord gepleeg. Dis wat die droogte doen, hy maak mense moeg.”
Toe almal klaar gehuil is met Andries se begrafnis, toe stap die mense uit die kerk uit, en daar staan toe twee vragte mielies.